Category Archives: Stories

Die koerantmannetjie 

Die koerantmannetjie en die magtige Apiesrivier
Ja neef ek het jou belowe om jou van die koerantmannetjie en die Apiesrivier te vertel. Soos my ouma dit vir my aan haar knie vertel het. 

Dit is nou dieselfde ouma wat so snuif gebruik het. Ek het nou nog die blikkie waarin ek my belegging gebêre het. Jy onthou mos nog die storie van die donkie wat my so geskop het. Tot vandag toe nog wonder ek hoe die dier in my huis gekom het maar dit vereers daar gelaat. 

Ou swaer ek moet deesdae so versigtig wees oor wat ek sê of doen. Dalkies het die tante met die lang neus, dis nou die een wat hier neffens my bly, se ore ook lank geword, want ek hoor by ‘n kennis, dat wat ek vertel, by ‘n groep mense wat hulself gesigboek noem uitgekom het. 

Hy verduidelik aan my dat dit glo mense is wat mekaar glad nie ken nie maar bymekaar kom om vreeslik te skinner. Verbeel jou nou. 

Ai swaer, waar gaan die mensdom heen?

Maar kyk ou neef ek dwaal nou al weer af van die storie. Ou swaer, vergewe my maar ek het eers ‘n paar dinge wat ek wil ontbors voor ek by die eintlike storie kom, dit gaan wel oor die koerantmannetjie se voor en nasaate. 

Jy sien ou broer, hy was ‘n engelsman. Nou die ou nasietjie van Engelse was nog altyd oorloggierig. Daar word vertel, dat as hulle net hoor van ‘n oorlog, het hulle in hulle seilskippies gespring en gejaag om te gaan deelneem. Partykeer het dit maande geneem voordat hulle daar aangekom het. Of die oorlog nog aan die gang was of nie maar wanneer hulle daar opgedaag het, het hulle dit voortgesit. Hulle was so mal oor oorlog, dat hulle vir sewe en dertig jaar teen die Hane baklei het. Dit is ‘n leeftyd, kan nie verstaan dat ons met ‘n oorbevolking in die wêreld sit nie. Hulle het later meer afgekoel en nou nooi hulle die ander lande om liewer oorlog op die rugbyveld te kom voer. Ek glo mos nie daaraan nie. Baie minder gebreekte bene as ek rustig op my stoep met ‘n koffietjie en my pyp kan ontspan. 

Ewenwel ou swaer kom ons kom nou by die storie. Die mannetjie se van was so ‘n regte christelike van, genaamd Churchill. Wag wag ou neef, net een ding nog. Toe my ouma my die storie vertel het, was ek nog op laerskool en ek was baie verontwaardig om te hoor dat die outjie se pa homself gelyk gestel het aan die Here. Hy was ‘n lord en onthou ons het elke dag “The Lord’s Prayer” opgesê, eers heelwat later kon ek die kloutjie by die oor bring. Die ander ding wat ek ook nie van my ouma verstaan het nie, is dat die klein snotkoppie in latere jare ‘n raadgewer vir Checkers geword het. Het nie geweet dat daar ‘n Checkers in daardie tyd in England was nie. Ook maar eers later die regte Engelse woorde gesien en geleer dat dit beteken dat hy tot die parlement verkies is. Later meer hieroor. 

Ou neef, die mannetjie het glo by die weermag aangesluit in 1893. Ook maar bang om geskiet te word, het hy net met ‘n pen en pistool, oorlog toe gegaan. In 1899 is hy met ‘n gepantserde trein êrens heen. Ou broer, kyk, hulle sê “hi-jacking” is ‘n nuwe ding. Moet dit nie glo nie, die boere het die tendens, daai jaar al begin. Ongelukkig was hulle onsuksesvol. Die trein het weggekom maar hulle het die outjie daar gevang. 

Hy is Pretoria toe gestuur en vir twee maande in ‘n kamp opgesluit. Ou swaer, die wagte het seker gedink dat die ou koerantmannetjie nie murg in sy pype het nie en in ‘n onbewaakte oomblik is hy oor die muur en weg. 

Hy het later geskryf dat hy deur die magtige Apies moes swem om weg te kom. Die liegbek, maar die Engelse wat nie die spruit geken het nie, het hom geglo en hy is as held terug in England verwelkom. Wys jou net hoe magtig die pen is. Die storie, my ou maat, eindig nog nie hier nie. Hy is nog in Pretoria. Die generaal het ‘n beloning van 27 sjielings uitgeloof, as ek my somme nog reg kan maak is dit twee Rand sewentig. Jy kon almiskie ses beeste daarmee koop. 

Ou neef, om aan die lewe te bly moes hy steel. Dit klink soos vandag hier in ons land, nê. Ou broer, onthou, later het die klein dief in die parlement geland, ook maar soos hier in Suid-Afrika. Daarvan gepraat, ek kyk onlangs na ‘n foto van ons parlementariërs en daar sien ek ‘n ou, dink sy naam is Julius, ek kan amper sweer hy het saam met my op die myn gewerk. Kan nou nie meer mooi die gesigte onthou nie maar daardie myn “helmet” lyk so bekend, syne het net nie meer die liggie in nie. 

Wel ou swaer, dit was nou so dat hy skuil skuil met die trein LM toe is en vandaar terug Engeland toe. 

Dit was nou die koerantmannetjie se storie. 
© Gois 

Leave a comment

Filed under Stories

Die Groot Wit Jagter 

Kyk ou swaer ek is nou erg bly 

dat jy dit goed gedink het om ‘n ou

koffietjie saam my op my se ou stoepie 

te kom drink het. 

Jy sien neef ek het gisteraand onthou 

van ‘n ou storietjie wat ek van my ouma 

gehoor het, wat haar se pa hulle as kinders vertel het. 

Ja, dit is nou die selfde ouma by wie ek die ou snuifdosie gekry het. 

Jy onthou hou mos nog, die een waar ek my Cannabis, dis mos nou die dagga, waarin ek belê het, in gebêre het. 

Ai swaer nou dwaal ek alweer van my storie af. 
Die storie gaan oor die groot wit jagter wat van England af hier na ons se mooie Afrika toe gekom het om glo te kom leeus jag. 

Hoekom hulle hom ‘n groot wit jagter genoem het weet ek nou nie so mooi nie, soos ek verstaan was die kêreltjie maar skaars vyf voet vyf. 

Ewenwel ou neef, die mannetjie het glo aanwal gestap inni Kaap. ‘n Regte kapok haantjie, met sy vyf voet vyf lyfie. Glo ‘n vreeslike frons gehad, asof iemand, iets onbehoorliks in sy snorre ingevryf het. Dit het sy neus so laat optrek, dat dit kompleet gelyk het asof sy oë sukkel om verby sy neusgate te sien. So ‘n regte, soos die Engelse sal sê, ‘n Snob. 
Glo, ou swaer, die mannetjie kon vir jou perdry. Het blykbaar vir Oxford polo gespeel. Wat dit ook al mag wees. 
Nietemin ou neef, hy het sy perd saamgebring en ‘n string jaghonde maar ek weet nie wat anners as jakkalse hulle in Engeland kon jag nie. So ek sien klaar probleme as die bloedjies hul eerste reuk van leeu se kind kry. 
Ou swaer, hy, sy perd en die twaalf honde het die trein geklim in die Kaap en die spoor tot in Pretoria gery 
Ou neef, dit is nou hier wat die storie interessant raak. Hulle sê na die rou Engelsman se aankoms was Pretoria-stasie nooit weer dieselfde nie. Dit was konsternasie op die stasie. 

Die Engelsman het vooruit laat weet dat hy ‘n gids, ‘n wa en ses draers benodig. Swaer hulle het nog nie selfone daardie tyd gehad nie en het van ‘n telegraaf gebruik gemaak. 

Nietemin, daar wag toe ‘n boerseun met ‘n twee-ossewa en ses draers die trein in. ‘n Twee-ossewa is darem kleiner as ‘n gewone ossewa maar ses draers?  Die Engelsman het seker gereken om baie leeus te skiet. 

Ag man ek loop alweer my storie op ‘n ander pad. 

Ewenwel ou neef, die Engelsman het uitgespring en opdrag gegee dat sy honde uit die vragwa losgelaat moet word. 

Nou ou swaer, in die tyd van die Kaap af het die honde se jag instink seker maar goed opgevlam, want toe die deur oop gaan vlieg die twaalf honde onder die “keffie” katte en ander stasie katte in. Daar was egter een hond met langer bene, wat so paar treë gegee het en toe vasgesteek het. Hy het soos ‘n standbeeld geword. Stert reguit na agter, parallel met die sement, regter voorpoot opgelig met die voorste deel wat pap hang. 

Soos sommige met ‘n pap hand groet. Neef, jy weet mos waarvan ek praat. 

Daar het ‘n tannietjie op ‘n bankie gesit en by haar voete was ‘n draadhok met ‘n paar patryse in. Dit was wat die hond so gehipnotiseer het. 

Intussen is al die ander honde weer bymekaar gebring maar die versteende hond was horende doof. 

Ou swaer, die boerseun haal sy geweer van sy skouer af en skiet ‘n skoot die lug in. Dit is dan dat die ou tannietjie so skrik dat sy van die bankie afval, die Engelsman dag die boerseun het haar geskiet en is op sy knieë langs haar en hou vlugsout onder haar neus. Intussen gryp die boerseun ‘n tafeldoek van een van die tafels af en gooi dit oor die hok om die patryse se vloek oor die hond te verbreek. Niks help nie en boerseun tel die stywe hond op en gooi hom op die wa 
Ou neef, met al die drama verby, trek die prosessie met die grondpad af, in wat vandag bekend staan as Pretoria-Noord, se rigting. Boerseun en die Engelsman te perd, die twee-ossewa met twaalf honde agterna, die standbeeld hond het intussen bygekom en die draers. Hulle het die magtige Apies rivier, wat maar ‘n spruit was oorkruis en is deur die poort. Ou neef, onthou dat ek jou die storie vertel van die magtige Apiesrivier en die Engelse koerantmannetjie. 

Deur die poort en die Engelsman met sy honde trek noord, wyl die boerseun met draers en wa bietjie meer oos gaan tot by ‘n digte bos doringbome op die oewer van die Pienaarsrivier, seker vernoem na ‘n boer in die omgewing want ek glo nie generaal Dan Pienaar was al bekend nie. 
Ou neef, die boerseun het besluit om daar laaer te maak, met een wa en baie doringtakke en baie vroegoggend verder te trek. Terwyl hulle nog besig was, het hulle ‘n skoot in die verte gehoor. Wa is maakstaan en doringtakke gebruik vir ‘n stewige bóma, net vir die wis en die onwis. 

Die groot wit jagter, met sy honde het daar aankom, met ‘n dooie bok, swaer ek kan nou nie vir jou sê of dit ‘n Springbok of ‘n Rooibok was nie. Die bok is afgeslag, Engelsman het aangedring dat die kop in die vel toegedraai word en op die wa gestoor word.

Die boerseun het ‘n lae seiltjie tussen twee bome gespan om onder te slaap en die groot wit jagter het ‘n bulsak onder die wa gegooi, waar hy en sy “swerm” honde gaan slaap. Met die skemer het die jakkalse begin “jip jip jip” om die kamp, met ‘n lang uitgerekte huil af en toe. Ou neef, hier by tienuur se kant, het daar so “hug hug hug” gekom en toe ‘n oorverdowend brul. Boerseun het ‘n klap soos hout teen hout gehoor en ‘n paar wildvreemde woorde. In die lig van die vuur, kon hy geen teken van die Engelsman of sy honde onder die wa sien nie maar dertien paar spierwit oë het oor die wa se rant na hom gestaar. ‘n Onaardige reuk van honde skyt en pis het in die lug gehang. Ou swaer heelwat van die proviand moes later weggegooi word. 

Ou neef, hy het toe heel rustig nog ‘n paar stompe op die vuur gegooi, ‘n skoot met sy geweer in die lug geskiet, omgedraai en verder geslaap. 

Die volgende oggend vroeg het hy sy perd gevat en ‘n ent gaan ry, die groot wit jagter en sy honde het nog ingeslaap op die wa. 

Met sy terugkeer het hy vir die groot wit jagter gesê dat daar leeuspore in die lang gras so kwart myl verder is. 

Engelsman het sy honde en een draer geneem, die draer het die engelsman se tweede Portugese mauser gedra. 

Ou swaer, hulle het so kruip sluip tot by die lang gras gekom, engelsman het sy honde ingestuur, die volgende oomblik is daar ‘n string van twaalf honde met sterte tussen die bene en krom rue met twee geelstrepe wat hulle jaag. Hulle vreesbevange tjanke het in die verte verdwyn. Ou neef, my ouma sê dat tot vandag toe nog het niemand daardie twaalf honde weer gesien nie. 

Kyk ou broer jy sal nou vra “en wat van die groot wit jagter”. Wel boerseun het hom gaan soek. Hy het later op sy mauser onder ‘n doringboom afgekom, daar was merke aan die stam en heel bo in die boom het engelsman gesit met geskeurde klere. Hy het glo steunend en kreunend daar afgeklim en so half ongemaklik wydsbeen geloop, asof daar iets in sy broek was. By die wa gekom het hy niks gesê nie, net ‘n sakkie met geld in boerseun se hand gestop, baie versigtig op sy perd geklim en in Pretoria se rigting gery. 

Groot wit jagter is ook tot vandag toe nog nie weer in Afrika gesien nie. 

Boerseun het glo ook twee nuwe Portugese mausers ge-erf. 
Nouja ou neef, daar het jy nou die storie van die groot wit jagter. 
© Gois 

Leave a comment

Filed under Stories

My Pyp die Donkie en Ek 

My Pyp die Donkie en Ek 
Kyk swaer, vanoggend het daar ‘n ding 

gebeur, wat my herinner het aan iets

 wat ek jou wil vertel. 
Konstabel Nortje maak sy fiets staan hier by my 

voorhekkie, hy seg toe dat die tante hier langsaan, 

jy weet mos, die een wat alewig haar neus oral

indruk, vir hom gesê het dat as sy op haar toilet

 se sitplek staan en sy deur die klein venstertjie 

kyk, kyk sy op my komposhoop, ek kan nou mos 

nie help vir haar venstertjie nie. 

Ewenwel, sy sê toe vir hom dat daar ‘n plantasie 

Dagga bome staan. Ou neef, ek kry so ‘n krieweling

 in my nekhare, so asof ‘n kolonie miere daar wil 

nesskop. 

Gelukkig sê die gereg toe, dat hy van die erf se

 hoek gekyk het en dat dit vir hom na kakiebos

 lyk, hy sê toe dat kakiebos baie vinnig vervuil 

en dat dit beter is om vinnig plan daarmee

 te maak. 
Ou swaer, Nortjekie klim sy fiets en is toe weg,

 ou neef, ek kry die poliesmanne regtig jammer, 

vandat die polisie nie meer petrol het nie moet

 die manne weer van fietse vir patrolliediens

 gebruik maak. Jammer ou boet, ek dwaal van 

my storie af. 

Ewenwel, ek stap toe na my komposhoop en 

wragtag, daar staan ‘n paar ‘n paar Daggabosse. 

Ek pluk hulle net daar uit, grawe ‘n gat in die 

komposhoop, tot daar waar dit lekker warm is 

en druk hulle daarin.

 Glo nie hulle sal weer kop uitsteek nie. 
Ai ou swaar, ek dwaal so weg van my storie. 
My Pyp die Donkie en Ek. 

Jy sien boeta, ek gebruik nou al vir so seker 

twee jaar Cannabisolie, dis nou Daggaolie. Ek 

gebruik dit vir al die oumens pyne jy weet, 

soos rumatiek, galstene, nierstene en sulke goed. 

‘n Koeriermannetjie lewer eenmaal ‘n maand my 

olie vanaf Swaziland af. Die probleem egter is 

dat die mannetjie se maand partykeer so vier 

vyf dae langer as my maand is. 

Ek het toe maar ‘n belegginkie by die lokasie gaan 

maak en ‘n vuurhoudosie Dagga gekoop. 

Jy sien ou swaer, my ouma het my vertel dat jy 

die blare trek soos tee en dat dit help vir oumens 

kwale. 

By die huis gekom neem ek toe ‘n snuifblikkie 

wat ek van ouma geërf het. Jy sien swaer, sy 

het gesnuif. Neem so ‘n knypie, druk die een 

neusgat toe, trek so ‘n diep snuif, haar mond 

trek so op ‘n pruimpie, oë styf toegeknyp, neus 

wikkel so twee keer en dan nies sy. Dan doen 

sy dieselfde met die ander neusgat, en nies weer 

Die ou eens wit sakdoekie, wat nou al lyk soos 

‘n skoorsteenveer s’n word gebruik. 

Sorry swaer ek dwaal al weer af. 

Ek bêre toe my belegginkie in die blikkie 

en steek hom diep in my kas weg. Soek nie 

moeilikheid met die gereg nie. 

 Ek het drie saaitjies uit gehou en het hulle by die 

komposhoop gaan plant, sodat my belegginkie 

kan rente trek. Ai ou neef, hulle het nie gegroei 

nie, so asof hulle nie daarvan hou dat jy die 

grond bewerk nie. 
Dit is toe weer een van daai maande wat 

die koerierkêreltjie se maand vyf dae langer 

as my maand is. 

Nouja, tyd om my belegginkie te gebruik. Ek 

grawe my blikkie diep agter in my kas uit en 

sê vir myself, myself vergeet van die tee en 

rook die dem ding. 

Ek sluit die deur, soek nie moeilikheid met 

die gereg nie, maak die vensters toe, ek 

verstaan dat die rook soet ruik en netnou 

ruik langneus van langsaan iets. 

Ek probeer ‘n zol draai uit koerantpapier maar 

die ding lyk soos ‘n verlepte aspersie, steek 

hom aan die brand, die vlammende 

koerantpapier skroei my ooghare, toe besluit 

ek dat dit beter sal wees as ek my pyp gebruik.

 Ek vat ‘n knypie en gooi dit in my pyp se kop 

maar kan amper niks sien nie. 

Bokker dit, ek stop toe maar ‘n stywe stopsel. 

Ek gaan leun so lekker teen my kamerdeur se 

kosyn, steek die pyp op en gee ‘n baie versigtige 

trekkie, daar is so effense krieweling, niks ernstig

nie ou swaer, okay wees braaf en ek vat ‘n diep 

trek tot in die onderste punt van my longe. 
Kyk ouboet, die deur is gesluit, die vensters is 

toe, so ek weet wragtag nie hoe die donkie in

die huis gekom het nie maar hy skop my voor 

die kop, ek sien nog hoe my pyp eenkant toe 

spat en kry my plat op die vloer. My hande en 

voete is weg, dit was ‘n ma se skop wat die 

flippen donkie my gegee het. 

Skielik is ek vreeslik dors maar toe ek nog 

dink aan water toe word ek vreeslik naar, 

ou neef, ek skat ek voel soos ‘n swanger 

vrou in die oggend, nie dat ek sal weet hoe 

hulle voel nie maar dit moet so iets wees. 
Ou swaer, kyk ek besef toe dat ek maar eerste 

aandag aan die naargeit moet gee maar toe ek 

my kop van die vloer af lig, toe draai alles om my 

en ek voel ‘n doodse moegheid oor my kom, ek

 besef dat ek hier moet wegkom voordat die donkie

my nog raak trap ook. Die kooi is die plek vir my. 

Ou boet maar ek kan nie regop kom nie, so ek maak 

toe maar soos ‘n slang op my maag. 

Nou ek weet van my deur tot by die katel is so vier 

treë maar daar waar ek lê sien ek dat my kamer 

baie groter is as wat ek besef het. 

My katel staan doer in die hoek en dit lyk vir my 

of dit ‘n vier dae trek gaan wees. 

Gelukkig het my hande weer by my aangesluit, 

dit is toe nou dat ek wens ek is soos ‘n kat, 

dat ek my skerp naals in die plankvloer kan 

inslaan maar ou neef ek is ‘n boerklong met 

kort naals. 

Ou swaera, nou slang ek maar katel toe. By 

sy hoekpaal slang ek maar op, totdat my knieë 

sonder my voete, ek weet nog nie wat van hulle 

geword het nie, gelyk met die matras is en 

val vooroor. 

Nou moet ek klou, die matras skommel en 

spring soos ‘n skuit op die see en wil my 

net afgooi. 
Ou neef, ek het die matras by Lewis se winkel 

op die dorp gekoop, dit was ‘n gewone driekwart 

een maar nou lyk hy so groot soos ‘n rugbyveld. 

Ewenwel, toe ek nou slangsgewys middel toe 

op my maag, slaan die seesiekte my dat die 

sweet soos bloed my aftap. 

My voete slaan skielik teen my knieë vas, kom 

vandaar waar die verdomde donkie my geskrop 

het, was seker bang hulle word raak getrap. Kyk 

ou swaer, ek verstaan nog nie hoe die donkie 

in my huis gekom het nie. 

Ek kan nie so op my maag bly lê nie, netnou 

verdrink ek in die seesiekte en ek het by ‘n skipper 

gehoor dat as jy na ‘n vêr kol kyk dan help dit vir 

die seesiekte, so ek draai toe op my rug en soek 

‘n kol. Nou moet ek jou sê, dit is asof ek in die 

skoolsaal op die vloer lê en na die dak doerbo 

lê en kyk, ek sien ‘n kol teen die dak. 

Dit is nou al sterk skemer maar ek staar na daai 

kol of my lewe daarvan afhang. Ek sien die kol 

raak al groter en hy kom al nader, hy raak 

so groot dat dit lyk of hy die katel en my gaan 

toevou. Ek maak my oë toe, dit was ‘n fout want 

dadelik begin van die kooi weer skommel en draai, 

ek sper my oë oop en sien die kol weer daar bo 

teen die dak, weer sak dit af en raak groter. 
Ou swaer ek moes seker aan die slaap geraak het, 

want ek droom van mense wat ek glad nie ken nie, 

ook van mense wat ek ken maar nie wil sien nie. 

Toe ek my oë oopmaak is dit nog skemer maar nie 

dieselfde nie. Die skemer kom dan nou by die ander 

venster in. Dankie tog, ek besef dat dit nou die oggend 

se skemer is. 
Magtig ou neef, ek is so dors dat dit voel asof 

my tong aan aan my verhemelte vas geskroef is, 

ek kyk of ek die donkie kan sien wat my gisteraand 

so hard geskrop het. Ek sê jou, ek weet nog nie hoe 

die dier in die huis gekom het nie, deur ‘n deur wat 

gesluit is nogal, daar is geen teken van hom nie. 

Nouja, ek gryp die tafeltjie langs my katel vir balans 

en klou aan die kas, tot by die kosyn. 

Strompel die kombuis binne en steek my gasprimis 

brand en sit die ketelkie op. Nou terwyl ek vir hom wag 

raak ek nou so lus vir vir ‘n dampie, ek begin soek 

na my pyp. Laaste wat ek hom gesien het was 

toe die donkie my geskop het. Hy is nie op my 

bed of op die tafel nie, so ek is toe maar hande 

viervoet op die grond, dit is net die koos onder 

die bed. Ou swaer ek sien hom toe wegkruip in 

die verste hoek onder die kas, seker maar bang 

dat die donkie hom sou raak trap, die dat hy daar 

gaan wegkruip het. 

Ek kyk die stopsel so en sien nie kans daarvoor 

nie. Neem my knipmes en gaan na die komposhoop 

waar ek hom skoon uitkrap. Proe proe so aan die 

steel, nie ‘n lekker smaak nie. 

Jy weet mos ou neef, my badkamer is buite, daar 

gooi ek ‘n bietjie water in ‘n kommetjie en spuit 

so bietjie van daai groen stroop waarmee jy 

skottelgoed was saam en begin die affêre skommel 

toe hoor ek my ketelkie roep my. 

Nouja swaer ek is kombuis toe, neem my groot 

koffiebeker en maak ‘n ekstra sterk swart 

koffietjie aan. 

Nou die beste plek om koffie te drink hier by my 

is op die stoep, gaan sit en plaas die stomende 

beker op die reëling. Toe raak ek darem te lus 

vir ‘n dampie. Ek is weer badkamer toe, die pyp 

lyk mooi skoon en vir die wis en die onwis blaas 

ek in die pypsteel, maggies broer, daar kom toe 

die mooiste seepbelle uit die kop. Ek neem 

toe weer skoon water en skommel die spul, 

dis toe skommel en blaas, totdat daar nie 

meer borrels is nie. Nou skud ek hom droog 

soos jy vanmelewe se kwikkoorspenne ge-

skud het, jy weet mos, om die kwik weer onder 

in die bol te kry. 
Broer, ek gaan toe kamer toe vir my twak. My 

mengsel is mos een derde Bokser, een derde Fox

en een derde Rum en raisen, ag ek bedoel Maple, 

ek raak so deurmekaar met die goed se name. 
Ou swaer en daar raak ek nou lus vir koffie, gaan 

in die kombuis maar ek kry my groot beker nêrens 

nie, vat toe maar ‘n klein beker, die wat ek vir gaste 

hou. Steek my ou gasprimissie brand en sit die 

ketelkie op, hy is warm en ek verstaan dit nie. 

Koffie gemaak. Nou swaer die beste plek om koffie 

te drink is op my stoep. Ek gaan sit en toe ek die 

beker op die reëling neerplaas sien ek my groot 

koffiebeker staan en stoom. 
Ou neef dit slaan my dronk, net soos oor 

hoe die verdekselse donkie in my huis 

gekom het, deur ‘n toegesluite deur. 

Daar het jy nou my storie ou swaer. 

Die storie van my pyp, die donkie en ek. 
© Gois 

Leave a comment

Filed under Stories