See-Nimf se Storie

See-Nimf se Storie

Haar huppelstap op die strand
goue hare wat wapper in die wind
hulle wat woon in die vissershuisies
oorkant die duin ken haar naam
maar hulle roep haar See-Nimf
sy het mos voor hulle groot geraak
hulle ken haar pyn
haar verlange na haar vaar.

Brons-goud het die son haar geverf
skrefie oë staar sy na die wit skuite
op die blou
haar mense
vissermense
snoekmense
‘n eensaam meeu dryf verby.
……………. —–……………….

In die eerste gedeelte probeer ek ‘n tydvak skep.
Sommige spelfoute is doelbewus om spreektaal
te probeer skep, ander nie. Ek vermoed dat my
Spel-toetser (wat leer soos ek skryf) begin
moed opgee met my taalgebruik.

NB. VIR TAALFUNDIES oa. (G.O.) is die nie geskryf nie.
In die eerste deel gaan dit meer oor Klaas-baard en
hoe hy in die storie inpas.

Klaas-baard se aankoms in die vissersgemeenskap
was merkwaardig.

Een oggend sien die gemeenskap ‘n man wat ‘n bakkie
strandlangs sleep. Binne is al sy besittings. ‘n Goed
geleesde Bybel, bondeltjies klere, griffels en blaaie en
die bakkie se twee spane.
Sy baard was lank en grys maar hy was nie oud nie,
ook nie jonk nie. Sy see-groen oë met lagplooitjies
was vriendelik.
Daar het hy homself tuis gemaak en van
sandsteen ‘n eenvoudige, een kamer
huisie gebou, gedek met riet uit die vlei agter
die duine. Klaas-baard was ‘n sterk man en het
alleen gewerk.

Dat hy ‘n geleerde man was, kon almal sien.
Hy het Hooghollands gepraat maar ook die Kaapse
Afrikaans en dan ook Ingels.

Van Maandag tot Saterdag het Klaas-baard sy
bakkie, see ingestoot en gaan vis haal maar
Sondag oggende die kinders bymekaar gemaak,
griffels en griffel-borde uitgedeel en hulle instruksie
gegee. Hulle leer lees en skryf. Alles onder die groot
ou Melkhoutboom.
Sondag middag het hy sy groot ou Bybel geneem en
vir die wat wou luister gespreek. Gou het dit byval
by die vissermense gevind en Sondag het ‘n rus en
leerdag geword.
So met die tyd het dit uitgekom dat Klaas-baard
doer in die hinterland groot geraak het op ‘n Morawiese
sendingstasie maar dat sy moeder, die see, hom
geroep het.

Soos sy gewente was, het hy elke oggend voor die
son se breek, in die sand gekniel het, waar hy aan
sy moeder se soom kon raak. Daar het hy met haar
en sy Heer gepraat. Niemand sou dit waag om hom in sy
stiltetyd te steur nie. Ook in die aand kon jy hom so
daar sien.

Vroeg oggend het hy eers suid gekyk oor die blou,
dan oos en wes, soms noord om die wind te meet. Kom
hy uit die sedoos, het Klaas-baard, sy bakkie gelaai met
sy knuppel, vishak en handlyne. Hy het nooit die skuite
se voetspoor oor die blou skoot van sy moeder gevolg
nie. Nee, hy het net gegaan na waar sy hom gewys het.
In die aand as hy terug gekom het, het hy sy vis gekrap,
gevlek, die koppe en kuit in twee emmers geplaas en die
res vir ‘n paar sjielings verkoop of geruil vir ‘n paar trosse
gesoute bokkoms.
Soms sou hy ‘n gevlek vis huistoe neem, dit in die huisie se
skoorsteen rook. Die galjoen wat hy gevang het, het hy nooit
verkoop of verruil nie. Dit was syne.

Een Donderdag het hy sy visser-broers gemaan om nie
te gaan vis nie maar hulle het nie geluister nie en met leë
skuite teruggekeer. Swart wolke het opgestaan en daardie aand
het vuur in die wolke gedans, die wind het gehuil en sand geblaas.
Vrydag het die storm voortgewoed, op die horison het die blitse
nog wegkruipertjie tussen die wolke gespeel.
Saterdag was dit onheilspellend stil maar die see was erg ontsteld
en omgekrap.
Sondag het hulle gesien dat Klaas-baard sy bakkie watertoe sleep,
dit was baie ongewend van hom. Op navraag het hy net gesê dat
moeder hom roep.
Die see was nog baie opstandig en met moeite
het Klaas-baard weggeroei.

Op die hoogste duin het hulle gestaan, totdat hulle hom nie meer
kon sien nie.
Heeldag het hulle gewag, tot na-nag maar hy het nie terug gekom nie.
Net die strand-wolwe het gehuil.
Skuins na drie het Sophia ‘n baba hoor huil, sy het ‘n tjalie om haar gegooi
en lamp geneem. Klaas-baard, grys in die gesig, het oor die strand gestrompel.
Hy het ‘n bondeltjie-kind styf teen sy bors gedruk, haar gevra om Jan-hak te
gaan haal en dan ‘n vuur in sy kaggel te maak brand.

Toe sy en Jan-hak in die kamer kom, lê-sit Klaas-baard op sy bed, met die
bondeltjie-kind nog in sy arms geklem. Hy het Jan-hak gevra om ‘n houtkrip
uit die bakkie te gaan haal. Sophia het die kaggel gestook. Sy wou die kind
by hom vat maar hy het geweier. Klaas-baard was ‘n hardkoppige man.
Hy het Sophia ‘n sixpens gegee om ta Sannie te vra vir ‘n koppie biesmelk
van haar bokooi. Toe sy terugkom, het sy die kind vir die eerste keer gesien.
‘n Pap baba. Maar Klaas-baard, waar het jy die kind gekry, het sy gevra. Hy
het haar geantwoord dat sy moeder, die see, hom, die kind gegee het.
Jan-hak het die houtwieggie voor die vuur kom neersit om droog te word
en stil stil huistoe gegaan.

Die son het net kop uitgesteek, toe Klaas-baard sy bakkie tot voor die
huisie gesleep het. Hy het die volgende naam in blou op haar geverf
“Die See-nimf”.
Daardie middag het sparre, maste en seile en hout begin uitspoel
op die strand. Geen drenkelinge of lyke het uitgespoel nie maar
wat eienaardig was, was dat hulle baaitjie die enigste een was
waar die wrakstukke uitgespoel het.

Sophia het hom gevra waarmee hy die kind gaan voed, sy antwoord was
dat biesmelk, meelblom en visvet genoeg sal wees in die begin.
Hy het twee briewe geskryf, een pennie seëls opgeplak en Jan-hak gevra
om dit by joodse winkel by die handelshuis te los.
Twee keer per maand kom rapportryers met pos en kourante en neem
weer terug na die Kaap. Die handelshuis lê so tien myl noord noord wes
van die nedersetting.

Die vroue van die vissers het handbygesit, rys is pap gekook en met marog
ingestamp. Hulle het snotvygies met suiker gekook en die soet-suur smaak
het byval gevind by hulle See-nimf. En so het sy eintlik almal se kind geword.

So drie maande na Klaas-baard se briewe, het daar een oggend ‘n kapkar by
die vissershuisies opgedaag. ‘n Ou dame met ‘n streng stywe bolla het navraag
gedoen na Klaas Bosjeman, almal was verward, want hulle het net ‘n Klaas-baard
geken, hulle Klaas-baard. Sy was toe maar na hom verwys waar hy onder die
melkhoutboom besig was met onderrig van die kinders, hulle See-nimf stewig
op sy rug gebind.
Met haar aankoms het hy die klas gestaak en haar na sy huisie geneem. Sy het
‘n brief en ‘n dokument vanaf die magistraat in die Kaap gegee en hom uitgevra
na die kind. Die dokument was ‘n geboorte sertifikaat om die geboorte van
Klaradyn Bosjeman Baard te registreer, vader Klaas Bosjeman Baard en Moeder Blaauwzee
Klaas-baard het ‘n stukkie papier, erg beskadig deur seewater, uit ‘n blik gehaal en
aan juffrou Beeckemann gewys.

Met die volgende gedeelte vertel ek julle meer van ons See-nimf, haar groot word.
lesse geleer en avonture. Ook van hoe Jan-hak aan sy naam gekom het.
Groete tot volgende keer.

Leave a comment

Filed under Uncategorized

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s