Monthly Archives: June 2015

Hand aan hand

Hand aan hand
wandelend langs die Weskus strand.
Poele en sand
lig seebries kam ons hare deurmekaar.

Opdraand kronkelpad
verby die skewe eik
renosterbos bekende reuk
met proteas weggesteek.

Growwe klipplaat
waar akkedis en koggelman
knik knik speel en skarrel in die son
geel magrietjies ryklik pronk.

Roerloos die windpomp
soos ‘n sentinaal oor die grysheid tuur.

Hand aan hand die wêreld in.

Gois

Leave a comment

Filed under Uncategorized

Munt se kant.

Tol die munt
kop of stert
is die lewe die moeite werd
op sy rand sal hy nie bly.
Kop sê ja stert weer nee
of andersom sal jy skree.

Die lewe is mos hier
leef dit voluit dag vir dag
sonder twyfel of verwyt
ignoreer kop of stert
op sy rand sal hy nie bly
maak dit die moeite werd.

Gois

Leave a comment

Filed under Uncategorized

Vergete

Die ou hout boot lê verlate
sand toe gewaai teen die kus
haar storie vergete
droom vergeefs van dae trots
dae van bokspring en vragte vis.
Bebaarde manne met skrefies oë teen die wind
wat binne haar romp met harde hande lyn kon trek en visse vlek
haar hartklop is nou stil
in die sand uitgelek
plek gemaak vir houtvrot vlek, sout en sand.

Gois

Leave a comment

Filed under Uncategorized